Afrikaner-"sagtemag" in die Lae Lande



Dinsdag, 01 Junie 2010 09:18
Dan Roodt

Ek sit hier in die Eurostar-sneltrein van Brussel na Londen en het nou vir die eerste keer weer tyd om oor die PRAAG-toer deur Europa te berig. Ons besoek het eintlik al my verwagtinge oortref, want ná ons vriendelike ontvangs in Swede, het ‘n mens byna oorstelp gevoel met die gasvryheid en meegevoel van die Lae Lande, sowel Nederland as Vlaandere.

Oor die eeue vandat Jan van Riebeeck in die Kaap aangekom het, het ons verhouding met die Lae Lande hoogtepunte en laagtepunte beleef. ‘n Onlangse laagtepunt was die kulturele boikot deur Nederland in die sewentiger- en tagtigjare, maar wat nie deur Vlaandere gevolg is nie.

Kort ná ons aankoms in Brussel het ek na Antwerpen vertrek vir ‘n ete aan huis van die Vlaams Belang se leier, Filip de Winter. Ek en ‘n ander groot vriend van die Afrikaners, Jared Taylor van American Renaissance, is saam deur Annick Deneve, die Vlaams Belang-leier se sekretaresse, in Brussel opgelaai en daarna na Antwerpen geneem. In die motor gesels ek en Jared land en sand oor Suid-Afrika, asook sekere raakpunte tussen ons en die Amerikaanse Suide.

Benewens die volksmoord op Afrikaners, is selfbeskikking die ander hooftema van hierdie toer. Net soos die Afrikaners met hul vele pogings tot onafhanklikheid, soos Stellaland en Goosen, asook die Boererepublieke, het die Suidelike Amerikaners telkens selfregering nagestreef, eers teen die Britte en toe teen die Yankees, maar tydens die Amerikaanse Burgeroorlog is hulle natuurlik finaal deur Noorde verower, net soos ons deur die Britte in 1902 verower is. Ook die ses miljoen Vlaminge, die Nederlandssprekende volk in België, is besig met hul eie demokratiese vryheidstryd om onafhanklikheid en selfbeskikking te verkry. By die partykongres van die Vlaams Belang verlede Sondag het die volgepakte saal dikwels uitgeroep: “België barst!”, met ander woorde, dat die Belgiese staat besig is om tot niet te gaan en dat Vlaandere uiteindelik volle onafhanklikheid en ‘n staat sal verkry.

‘n Mens eet heerlik in België en die dinee by De Winter is uit die boonste rakke, met ‘n gehuurde sjef wat allerlei geregte vanuit De Winter se kombuis optower, vyf of ses gange as ‘n mens die kaas ná die hoofgereg insluit.

Eintlik is dit ‘n fondsinsamelingsdinee en die twintigtal mense bestaan meesal uit Antwerpse sakemanne wat die Vlaams Belang finansieel ondersteun. Aan tafel praat ek Afrikaans en al die Vlaminge volg my gemaklik. Trouens, ‘n gewaarwording wat al hoe sterker by my inslag gevind het, is dat ons taal, Afrikaans, ‘n mens eintlik toegang tot die hele Noord-Europa gee. Die Lae Lande, natuurlik, waar ons geredelik verstaan word, maar ook Duitsland, Switserland en die Skandinawiese lande waar ons met geringe moeite daardie tale kan aanleer, danksy ons taal se ooreenkomste wat woordeskat, sintaksis en selfs uitspraak betref.

Ek dink nie die meeste Afrikaners besef in watter mate ons Afrikaanse kultuur, soos ons volksliedjies en letterkunde, eintlik deel vorm van byvoorbeeld die Vlaamse kultuur nie. Op skool leer die meeste Vlaminge ons volksliedjies en kry ook blootstelling aan die Afrikaanse poësie. Een van die dames aan my tafel verduidelik hoe sy vir ‘n vriendin ‘n mooi gedig oor moederskap moes voordra en niks gepas in Nederlands kon vind nie. Daarna het sy op ‘n gedig van Elisabeth Eybers afgekom en dit het groot byval gevind.

Die aantreklikheid van Afrikanerkultuur vir sowel die Vlaminge as die Hollanders verteenwoordig ‘n soort “sagte mag” wat ons steeds uitstraal, in weerwil van ons huidige staatloosheid en oorheersing deur die ANC se swart rassiste. Huntington het mos gepraat van “harde en sagte mag” en het Amerika se popkultuur van Hollywood, Coca-Cola, McDonald en Levi-denims as deel van die land se “sagte mag” getipeer.

Twee dae ná die dinee by De Winter, sit ek in die Schiller-kafee op die Rembrandtplein in Amsterdam en vra ‘n Nederlandse joernalis van die koerant “De Pers” die vraag aan my: “Hoe sou jy die Afrikanerkultuur beskryf?” In 2006 het ek by die American Renaissance-kongres in Washington die frase, “Beethoven in die Bosveld” gebruik en ek herhaal dit teenoor hom. Dis nie dat alle Afrikaners Beethoven op die klavier of die viool speel nie, maar daardie kombinasie van Hoog-Europese gekultiveerdheid, geletterheid en finesse met die viriele jag- en pionierskultuur, is wat die Afrikaner ‘n unieke wese op hierdie planeet maak.

Meer oor ons besoek aan Amsterdam egter later. Ná die gesprek oor Elisabeth Eybers en die voortreflikheid van die Afrikaanse poësie met die welgeklede, welvarende Vlaminge aan tafel, versoek De Winter vir my en Jared Taylor om elkeen ‘n kort toespraak iewers tussen die hoofgereg en die kaas te maak, hy in Engels, ek in Afrikaans. In my kort praatjie verwys ek na ons swaarkry onder die juk van die ANC, maar ook na ons gemeenskaplike vryheidstryd om onafhanklikheid en vryheid te verkry. Ten slotte kwoteer ek die bekende woorde van I.D. du Plessis:

“Nee, soet is die stryd vir die stryder,

Al moet hy uiteindelik verloor;

Maar die man wat sy deelname weier,

Is die man wat sy nasie vermoor.

Die Vlaminge klap warm hande vir my enkele onvoorbereide woorde. Iemand komplimenteer my later selfs op my “grandiose toespraak”. In sy Engelse toespraak meen Jared Taylor dat hy my beny dat ek in ‘n taal wat so naby aan dié van die Vlaminge is myself verstaanbaar kon maak. Volgens hom stry ons almal, PRAAG, American Renaissance en die Vlaams Belang, dieselfde stryd ten behoud van die Westerse beskawing. Hoewel die proses van aftakeling by ons in ‘n veel meer gevorderde stadium verkeer, is ons problematiek van kultuurbotsing, asook rasse- en etniese verskille, deesdae die universele kwessies van die hele Westerse wêreld, insgelyks hier in Europa. Dus het ons waarskynlik vir die eerste keer in meer as ‘n eeu die kans om nie net onsself aan die buitewêreld verstaanbaar te maak nie, maar ook op gelyke voet deel te neem aan die Europese politieke en filosofiese gesprek.

Ek sal oor die volgende paar dae nog verder berig oor ons ontvangs in Nederland, asook by die kongres van die Vlaams Belang in Antwerpen en ons kuier by die jong Afrikaneraktiviste in Londen wat die betoging voor die SA ambassade op Trafalgarplein georganiseer het.
Wat PRAAG binnekort gaan bereik, is om ‘n wêreldwye versetnetwerk te vestig wat die destydse anti-apartheidsbeweging na amateurs gaan laat lyk. Daar gaan gereelde betogings voor SA ambassades wees, skakeling met media en besluitnemers in die meeste Europese lande en selfs internasionale organisasies, alles met die uitsluitlike doel om vir ons mense outonomie en grondgebied in Suid-Afrika te verkry waar ons vry van die ANC-juk kan leef.

Binnekort die volgende aflewering wat dit betref.

Oorsprong:Praag

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: