Vermoor ná Bulls-fees


Mnr. Marius Marais vier die Bulls se sege oor die Crusaders. Mnr. Robert Erasmus, ’n vriend van Marais se dogter, Chantel-lee, het dié foto sowat 15 minute voor Marais se dood geneem.

2010-05-27 00:19
Virginia Keppler

Kort nadat ’n lojale Bulls-ondersteuner Saterdagaand sy span se sege oor die Crusaders gevier het, het gewapende rowers sy lewe met twee koeëls beëindig.

Mnr. Marius Marais (44) is Saterdag omstreeks 19:00 in sy huis buite Rustenburg in Noordwes geskiet terwyl hy probeer het om sy vrou, Annatjie (44), en hul dogter, Chantel-lee (20), te red toe rowers hulle met wapens in die kombuis vasgekeer het.

Marais, van ’n hoewe in Kroondal in die Waterval-omgewing, is een keer in die kop geskiet. Die koeël het sy brein vergruis. ’n Tweede koeël is by sy bors in en deur sy longe. Hy is op slag dood.

Mev. Marais, ’n Stormers-ondersteuner, het gister vertel hoe haar man kort voor die moord gelag en gejuig het oor sy span se oorwinning.

“Hy het ’n Super14-eindstryd tussen die Bulls en die Stormers voorspel en was baie in sy noppies. Hy het nog sy horinkies opgehad.”

Mev. Marais, hul seun, Jean (25), sy vriendin, me. Nicolene Esterhuizen (21), asook Chantel-lee en haar vriend, mnr. Robert Erasmus (22), het nadat hulle gebraai het by die huis ingegaan om na die Stormers en Waratahs se wedstryd te kyk.

Mev. Marais het gesê Chantel-lee is by die kombuisdeur uit om te kyk hoekom die hond blaf. Nadat sy by die deur uit is, het sy geskreeu: “Daar is mense wat oor ons muur spring!”

Erasmus het uitgestorm om te gaan kyk, maar in sy spore omgedraai toe hy die vier aanvallers, elk met ’n wapen in die hand, op die kombuisdeur sien afstorm, het mev. Marais vertel.

Volgens haar was die aanvallers te vinnig op hulle. Haar man, Jean en Nicolene het by die voordeur uitgehardloop, maar sy en Chantel-lee was te stadig en die rowers het hulle in die kombuis oorval.

“Toe my man omkyk en sien hoe die rowers hul wapens teen ons koppe druk, het hy omgedraai om ons te kom red, maar toe oorrompel hulle hom.

“Ek het drie skote hoor klap en toe is die rowers weer op ons. Hulle wou selfone hê.”

Hulle het vyf selfone, ’n skootrekenaar en ’n kamera gevat en gevlug, het sy gesê.

Mev. Marais en haar kinders het nie besef haar man is dood nie en het hom dadelik in ’n motor gelaai en gejaag na die hospitaal, waar hy dood verklaar is.

“Ek verstaan nie waarom hulle die huis nie net leeggedra en ons almal gelos het om te leef nie.

“Ek gaan my man vreeslik mis, veral sy SMS elke oggend as hy op pad werk toe was. Hy het altyd geskryf: ‘Jy moet lekker werk en ek is lief vir jou’.

“Hy het tog so vreeslik uitgesien na Saterdag se wedstryd en hoewel ek ’n Stormers-ondersteuner is, het ons ’n baie goeie rugbyverhouding gehad.”

Ao. Sam Tselanyana, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie ondersoek ’n saak van moord en huisroof.

Marais word môre om 13:30 uit die Hervormde kerk Oos in Klerksdorp begrawe.

Die gesin is oorspronklik van Klerksdorp.

Oorsprong:Beeld

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: