Stockholm verwelkom PRAAG


Deur Dan Roodt
Donderdag 27 Mei 2010 3:24 pm

Ons PRAAG-afvaardiging het ‘n warm ontvangs van behoudende organisasies en partye in Stockholm ontvang, asook van die menseregte-afdeling van die Sweedse ministerie van buitelandse sake waar ons te woord gestaan is.

PRAAG het binne 24 uur soveel nuwe vriende in Stockholm gemaak dat ons amper ‘n persoon voltyds sal moet aanstel om voortaan met organisasies in dié land te skakel.

Die blitsbesoek aan die Sweedse hoofstad het Dinsdagaand begin toe ons vanaf Frankfurt by die Arlanda-lughawe deur ‘n lid van die Sweedse Weerstandsbeweging, die groep wat onlangs ‘n betoging buite die SA ambassade in die stad gehou het, verwelkom is. Woensdagoggend het ons vervolgens die kantore van enkele koerante, asook die Sweedse radio en televisie aangedoen, waarna ons na die middestad vertrek het om ‘n verteenwoordiger van die departement van buitelandse sake se menseregte-afdeling oor die bedekte volksmoord teen Afrikaners in te lig.

Ek het ‘n eksemplaar van my boek in Engels, The Scourge of the ANC, en ‘n CD met TV-programme oor die geweld en plaasmoorde aan die regeringsverteenwoordiger oorhandig het. Ons is verseker dat die saak op die hoogste vlak aandag sal geniet. Volgens haar “glo Swede sterk in die beginsel van gelykheid” terwyl dit tans duidelik is dat Afrikaners en ander blankes in Suid-Afrika ongelyk voor die reg en deur die staat behandel word. Ons is verseker dat Swede ons behulpsaam sal wees met die insameling van getuienis oor menseregteskendings teen Afrikaners wat agterna vir vervolging aan die internasionale geregshof in Den Haag oorhandig mag word.

Ek het spesifiek na die geval van Marzanne Kruger, die eenjarige Afrikanerbaba, verwys wat in ‘n onlangse rasse-aanval so deur twee jong swartes mishandel is dat sy breinskade opgedoen en blind gelaat is. Ook die pas afgelope gevalle waar die ANC se polisie in uniform op ons mense geskiet, ‘n voertuig gekaap en op Ellisras Afrikanervroue seksueel gemolesteer het, is onder die aandag van die Sweedse regering gebring.

Ons besoek aan die ministerie van buitelandse sake het langer as wat verwag is, geduur en daaropvolgende afsprake met die Sweedse Nasionale Party en die Sweedse Demokratiese Party moes effens verskuif word.

Die bloedjong politici en aktiviste van die Sweedse Nasionale Party is begeesterde jong aktiviste wat reeds ‘n hele uitgawe van hul partykoerant aan die Afrikanersaak gewy het, met artikels oor die Afrikanergeskiedenis, die konsentrasiekampe, Groot Trek, Voortrekkermonument, asook plaasmoorde en die moord op Eugene Terre’Blanche. Duidelik is daar ‘n sterk nasionale bewuswordingsproses onder die Sweedse jeug aan die gang en ons het verbysterd gestaan teenoor die belangstelling in ons land, asook die vele versoeke om meer inligting, ook om Suid-Afrika te besoek en meer inligting te bekom. Indien Swede in die dertig of veertig jaar gelede onder die sosialistiese bewind van Olof Palme die ANC ondersteun het, het meer as een aantreklike blonde en blou-oog-Sweed van albei geslagte aan ons bely dat hulle “hul skaam vir hul land se geskiedenis” en vorige steun vir terreur in Suid-Afrika.

Sowel die jong lede van die Sweedse Weerstandsbeweging as die Sweedse Nasionale Party voel sterk dat hulle oor ‘n morele verantwoordelikheid beskik om Afrikaners in hul huidige oorlewingstryd by te staan. Vele het geweet van die Skandinawiese kommando in die Tweede Vryheidsoorlog wat aan Boerekant teen die Britte kom veg het en waarvan ‘n hele klomp tydens die beroemde slag van Magersfontein gesterf het. Die spontane betuigings van solidariteit en steun het selfs veiligheidsdiens in Suid-Afrika ingesluit om ons mense teen aanvalle en dreigende volksmoord te beskerm.

Belangstelling in Afrikaans, die Afrikaanse letterkunde en Afrikanergeskiedenis was insgelyks hoog en ooreenkomste tussen Afrikaanse en Sweedse woorde, hoewel verskillend in uitspraak en spelling, is verskeie kere in gesprekke beklemtoon.

Vanweë Swede se liberale asielbeleid wat aan mense in oorlogsgebiede soos Irak, Somalië en verskeie Afrikalande verblyf en maatskaplike voordele in dié land verleen, is daar reeds 1,5 tot 2 miljoen vreemdelinge in Swede, waaronder meer as ‘n miljoen anderskleuriges. Die jong Sweedse aktiviste met wie ons in gesprek was, het deurgaans beklemtoon dat hul ouers “gebreinspoel” is om hierdie situasie te aanvaar, maar dat hulle dit as ‘n ernstige aantasting van hul land, taal, identiteit en erfenis beskou.

“Die verskrikkinge wat Afrikaners nou in Suid-Afrika beleef, is wat vir ons in die toekoms wag wanneer ons ‘n minderheid in ons eie land gaan word,” is daar aan ons gesê. “Vandaar ons empatie met die swaarkry en onreg wat julle moet verduur.”

Gister op 26 Mei was eintlik my verjaardag en ons het ‘n heerlike aandete in ‘n Sweedse restaurant genuttig met egte inheemse geregte. Ook opvallend is dat die hele spyskaart in Sweeds geskryf is, sonder ‘n enkele woord in Engels of selfs Frans. Al die geregte het ook Sweedse name, ‘n aanduiding dat taaltrots in Swede as iets vanselfsprekends ervaar word en dat die taalbehoeftes van die immer teenwoordige toeris nie bo dié van die inheemse bevolking gestel word nie.

Tot laat Dinsdagaand het ons strategie bespreek en daar is besluit dat daar gereeld betogings voor die Suid-Afrikaanse ambassade asook pamfletveldtogte op straat gevoer sal word om die publiek in Swede bewus te maak van die bedekte volksmoord wat daar tans teen Afrikaners gevoer word.

Gereelde mediaverklarings, ten minste een keer per week, sal mediaverklarings in die plaaslike taal aan al die Sweedse koerante, radiostasies en TV-kanale uitgestuur word om die Suid-Afrikaanse krisis konstant onder hul aandag te bring. In Suid-Afrika self sal ons ook die buitelandse korrespondente van Sweedse koerante kontak en sorg dat hulle ook op hoogte gehou word. Ons doelwit is om die huidige groep ondersteuners vir die Afrikanersaak aansienlik te laat aangroei, maar ook om van die ANC-bewind ‘n muishond te maak in die land van waar hy eens op ‘n tyd die meeste finansiële steun ontvang het.

Soos ek aan die verteenwoordiger van die Sweedse departement van buitelandse sake gesê het: “Ons voel sterk dat Swede in die verlede mislei is en hul sin vir billikheid uitgebuit is om hulle op grond van eensydige inligting vir die ANC en SAKP en téén die Afrikaner te laat optree. Hopelik sal daardie selfde sin vir billikheid en regverdigheid tans in ons guns werk, noudat ons die slagoffers van die ANC se beleid van etniese suiwering onder die dekmantel van misdaad geword het.”

Ná drie dae van lughawens en vliegtuie met byna onophoudelike afsprake, etes en ontmoetings, is ons al heel moeg, ook gegewe vanmore se vertrek om vyfuur die oggend na Nyköping van waar ons ‘n goedkoop vlug na Brussel gehaal het.

Maar nog is’t einde niet. Die leier van American Renaissance en ‘n groot vriend van die Afrikaner en PRAAG-ondersteuner, Jared Taylor, bevind hom tans vanuit Washington op ‘n sakebesoek aan Brussel en ek is terstond ingesleep by ‘n gesamentlike ete met hom en Filip de Winter, die leier van die Vlaams Belang hier in België. By my vorige ontmoeting met De Winter in 2006 het hy aan my gesê: “My siening is dat Suid-Afrika aan die Afrikaner behoort.” Die tamheid ná ons geweldige pas van die afgelope paar dae sal dus maar bietjie opsy geskuif moet word om ook vanaand in die Vlaamse stad Antwerpen indringend oor die Afrikaner se benarde situasie met simpatieke en invloedryke Westerlinge te gesels.

Oorsprong: Roodt.org

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: