Boeremag-lede wil verhoor word as ‘krygsgevangenes’


Mnr. Cobus Pretorius in 2003 tydens ‘n hofverskyning van die Boeremaglede. FOTO: Christiaan Kotze

2010-04-24 23:30

Herman Scholtz in Pretoria
herman.scholtz@rapport.co.za

Sommige beskuldigdes in die Boeremag-verhoor beroep hulle nou op die Geneefse Konvensie om as krygsgevangenes erken te word en nie as vermeende terroriste verhoor te word nie.

Altesame 21 mans staan al sowat sewe jaar lank tereg op aanklagte van onder meer hoogverraad, terrorisme, sabotasie, moord, die veroorsaking van ontploffings, die onwettige besit van wapens en ammunisie en poging tot moord.

Hulle wou onder meer glo oudpres. Nelson Mandela doodmaak.

Dr. Johan Pretorius, een van die beskuldigdes, het die afgelope week in die Pretoriase hooggeregshof geweier om die staat se vrae te beantwoord en hom op die internasionale reg beroep om beskerming te geniet vir die “vryheidstryd” wat hy gevoer het.

Die regsverteenwoordigers van sy twee broers, Kobus en Wilhelm Pretorius, het in die hof aangedui dat hulle dieselfde roete sal volg.

Regter Eben Jordaan sal dié aansoek Woensdag oorweeg.

Die Geneefse Konvensie, waarvan Suid-Afrika ’n ondertekenaar is, maak voorsiening vir die regte van krygsgevangenes.

Johan en Wilhelm Pretorius, onderskeidelik ’n mediese dokter en teoloog, het vroeër in die verhoor van regsverteenwoordigers verander en skriftelike erkennings gemaak.

Hulle het erken dat hulle bomme geplant en “oorlog teen die Republiek van Suid-Afrika verklaar het”.

Hoewel hul aandeel in die verskillende “legitieme militêre operasies” verskil het, het albei aangedui dat hulle “minstens kennis daarvan gedra het en hulself daarmee vereenselwig het”.

Luidens die bekentenisse wat hulle afgelê het, was hulle ook betrokke by die stigting van ’n “basis” in Gauteng wat nodig sou wees in die “anargie” wat met die “nag van die lang messe” sou losbreek.

Hulle was ook betrokke by die skryf van die sogenaamde “blou briewe” wat van die ANC en die president geëis het om onmiddellik die land aan die “Boerevolk” terug te gee.

Hulle het “formeel oorlog verklaar” toe dié versoeke geïgnoreer is.

Die Boerevolk Krygsgevange-komitee het reeds in ’n verklaring gesê: “Dit was nie brandewyn-en-Coke-praatjies rondom ’n braaivleisvuur nie, maar professionele persone wat alles gelos het in die strewe om die Boerevolk se selfbeskikking te verwesenlik.”

Oorsprong:Rapport
http://www.rapport.co.za/Suid-Afrika/Nuus/Boeremaglede-wil-verhoor-word-as-krygsgevangenes-20100424

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: