Boeregesin van Bfn meen polisie ‘terroriseer’ hulle

2010-04-16 00:12
Charles Smith

Bloemfontein . – ’n Boeregesin van Bloemfontein voel hulle word deur die polisie “geterroriseer” nadat die taakmag met ’n helikopter op hul plaas toegeslaan het om na wapens te soek wat glo van die weermag bekom is.

Die polisie moes die Saaiman-boerdery in Bainsvlei met rooi gesigte verlaat nadat die “wapens” slegs leë ammunisiekiste was wat hulle as toesluitkaste van die weermag vir hul werkers bekom het.

Die polisie het self erken niks wapens is gekry nie, maar vir die Saaimans is dit nie genoeg nie: Hulle voel hulle is voor hul werkers verneder en hul gesag is ondermyn. Boonop het niemand in die polisie om verskoning gevra vir die voorval nie.

Mev. Joan Saaiman eis ook dat die vier mense wat in hul tamatieland gelê en op hulle gespioeneer het deur die polisie vervolg word weens die valse verklarings wat afgelê is.

Sy, haar man, Piet, hul seun, Kobus, en skoondogter, Yolandi, is erg getraumatiseerd ná die volledige optrede Maandag waar met ’n helikopter op hul plaas geland is en hulle met vuurwapens gekonfronteer is. “Chaos” is veroorsaak en hul huishulp is selfs ondervra hoeveel uur sy per dag werk.

Inspekteurs van die departement van arbeid het ook verlede maand op die Saaiman-boerdery se aartappelverpakkingsaanleg met groot polisiebegeleiding toegeslaan.

Dié keer het die “spioene” hulle afgeloer toe ’n weermagvoertuig verlede Vrydag die leë ammunisiekiste afgelaai het. Drie dae later het die polisie van alle kante toegeslaan.

“Toe die polisie aankom en die hele sirkus aankom, het hulle seker gesien hoe verslae is hierdie dom boere. Ek sê toe: Here, moet dit weer gebeur? Hulle vernietig alle gesag wat ons het,” het mev. Saaiman gister aan Volksblad gesê.

“Ons word letterlik geteister en geterroriseer deur die polisie. Ons is al geteiken in ’n plaasaanval, maar toe ons die noodnommer 10111 bel, sê hulle ons val nie in hul gebied nie.

“Nou is ons letterlik verneder deur die polisie, maar nie een sê hy is jammer nie. Wat as dit wittes was wat valse verklarings teen swartes afgelê het? Ek vra die kaptein Gerber wat die operasie gelei het wat sy volgende aanslag teen ons is. Sy antwoord was: ‘Gee my jou selnommer dan laat weet ek jou.’ Sulke arrogansie!”

’n Polisiebeampte het hulle gister besoek en gesê die voorval sal ondersoek word, maar sy het nie baie vertroue daarin nie. “Die polisie beskerm die polisie en wie ondersoek die polisie? Ja, die polisie. Die publiek moet weet wat aangaan. Honderde mense word só geteister.”

Sers. Mmako Mophiring, woordvoerder van die polisie, het by navraag gesê hulle het ’n lasbrief gehad om op die plaas toe te slaan nadat hulle inligting oor beweerde wapens ontvang het. “Ons moet ons vergewis of dit waar is as ons inligting soos wapens of dwelms kry. Maar ons het niks op die plaas gekry nie.”

Op die Saaimans se klagte dat hulle weens vals inligting geteister word, het hy gesê die polisie sal moet vasstel waarom iemand “nie geloofwaardig is nie en hulle sal ondervra moet word”.

In dié stadium is daar egter nog nie sprake van klagtes teen die mense nie.

– Volksblad

Oorsprong:Volksblad
http://www.volksblad.com/Suid-Afrika/Nuus/Boeregesin-van-Bfn-meen-polisie-terroriseer-hulle-20100415

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: