‘Wie was dit?’ ‘Hy wat vir ons gewerk het?…’


Me. Charmaine Pienaar (20) gister buite die rondgaande hof in Vereeniging nadat sy getuig het oor die wrede bylaanval op haar en haar ma, mev. Heila Pienaar (41). Foto’s: Sonja van Buul

2010-04-14 22:25

Sonja van Buul

Vereeniging. – Sy sal sy gesig “nooit, nooit, nooit vergeet nie”.

So het me. Charmaine Pienaar (20) gister hier in die rondgaande hof getuig kort nadat sy vir die eerste keer ná ’n wrede bylaanval weer van aangesig tot aangesig met mnr. Victor Nyezineu, haar vermeende aanvaller, gekom het.

Nyezineu is op 13 Oktober 2008 in hegtenis geneem en word daarvan beskuldig dat hy Pienaar op 1 Oktober 2008 wreed met ’n byl aangeval en haar ma, mev. Heila Pienaar (41), met dieselfde byl by die gesin se skroot-onderneming in Waldrift hier vermoor het.

Hy staan ook tereg op ’n aanklag van gewapende roof.

Nyezineu het gister skuld ontken op die aanklagte teen hom en voer aan hy was die betrokke dag nie by die onderneming nie.

Beeld het berig hoe Pienaar jr. etlike ure lank hulpeloos langs die lyk van haar vermoorde ma gelê het voordat haar pa, Danie (43), en haar broer, Frikkie (22), op hulle afgekom het.

Sy het onder meer skedelbreuk, ’n gesplinterde wangbeen en ’n gebreekte kakebeen opgedoen en dokters het gevrees sy sal nie weer kan loop nie.

Pienaar jr. het gesê sy “sal nie ’n man onskuldig tronk toe stuur nie”, toe adv. Kgomotso Tloane, vir die verdediging, wou weet hoekom sy sê dit was Nyezineu, ’n voormalige werknemer van die gesin se onderneming en aan hulle bekend as Talent, wat hulle aangeval het. Dít terwyl hy beweer hy was nie daar nie.

“Ek sal sy gesig nooit, nooit, nooit vergeet nie,” het sy gesê.

Sy het getuig sy het Nyezineu onder meer herken aan die spleet tussen sy voortande. Toe mnr. John Maenga, vir die staat, vra dat die beskuldigde sy tande aan die hof wys, het Tloane beswaar aangeteken.

Mnr. Pienaar sr. het sy huilende dogter styf teen hom vasgedruk nadat sy getuig het.

Hy het Nyezineu vroeër woedend aangegluur toe hy verby die beskuldigde na die getuiebank geloop het voordat hy getuig het hoe hy sy vermoorde vrou en erg beseerde dogter gevind het.

“Sy was vol bloed en die mure was vol bloed,” het hy huilend gesê oor die oomblik toe hy sy vrou agter die toonbank gewaar.

Hy het met ’n strak gesig verder getuig hoe sy vrou se “hele gesig aan die regterkant ingeslaan was”.

“Die bloed was droog. Ek het aan haar gevat, maar sy was al koud gewees.”

Mnr. Pienaar sr. het getuig hy het me. Pienaar jr. kort ná die aanval gevra wie dit gedoen het. “Toe sê sy: ‘Talent, die een wat vir ons gewerk het’,” het mnr. Pienaar sr. getuig.

Die saak duur vandag voort.

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Wie-was-dit-Hy-wat-vir-ons-gewerk-het-20100414

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: