Jeugliga "vertrap en verskeur" plaasmoord name

2010-03-19 15:10

Die ANC Jeugliga (ANCYL) het vandag ’n lys van die name van meer as 1600 slagoffers van plaasmoorde, wat deur AfriForum Jeug aan hulle oorhandig is, in die straat voor hulle hoofkantoor uitgegooi, daarop getrap en dit verskeur.

Dit, volgens ‘n mediaverklaring deur Afriforum wat vanmiddag aan Die Burger ge-epos is.

Volgens die mediaverklaring het Julius Malema ook AfriForum Jeug met die dood gedreig deur te sê dat daar ’n volgende “Shell House Massacre” sal wees indien AfriForum Jeug voor sy kantoor (Luthulihuis) kom protesteer.

Dit volg nadat Malema by verskeie openbare geleenthede die lied Dubula i’bhulu (“Skiet die Boere”) gesing het en AfriForum Jeug stappe teen Malema geneem het deur ’n klag van haatspraak teen hom by die Gelykheidshof in te dien en ’n protesoptog na die ANCYL se kantoor te reël. ’n Week gelede het die ANCYL AfriForum Jeug uitgedaag en aangemoedig om voor hulle kantoor te protesteer, waarna AfriForum Jeug voortgegaan het met die organisering daarvan.

AfriForum Jeug se nasionale voorsitter, Ernst Roets, het gistermiddag met die ANCYL se president, Julius Malema, ’n vergadering gehad om die logistieke reëlings van die protesoptog te finaliseer. Tydens die gesprek het Malema gesê dat hy op AfriForum Jeug sal skiet indien daar voortgegaan word met die optog. In die lig daarvan is vandag se protesoptrede op Mary Fitzgeraldplein in Johannesburg voortgesit, maar is besluit om die skare nie na die ANCYL se kantoor te laat beweeg nie. ’n Klein groep verteenwoordigers, bestaande uit Ernst Roets, Kallie Kriel, Steve Hofmeyr, Gerrie Pretorius en Sean Else, het vandaar na Luthulihuis vertrek om die memorandum in te dien.

By Luthulihuis is AfriForum Jeug se afvaardiging deur lede van die ANCYL en die polisie ingewag. Hulle het aanvanklik geweier om die griefskrif en die lys van slagoffers te aanvaar en toe die dokument uiteindelik in hulle hande geplaas is, het hulle die lys van slagoffers in die straat en op die sypaadjie uitgestrooi en het lede van die ANCYL dit doelbewus vertrap en verskeur. ? Lid van die ANCYL het Roets ook in die straat gestamp.

Roets het gesê dat hulle geen beskaafde of demokratiese optrede verwag het nie, aangesien hulle geweet het dat hulle met die ANCYL te doen het.

“Dit is uiters kommerwekkend dat hulle letterlik op die name van vermoordes getrap het. Dit kon net sowel Robert Mugabe gewees het wat ons vandag ontvang het. Die Jeugliga is nie verhewe bo die reg nie en ons sal sorg dat hulle dit op die harde manier leer. Die Jeugliga se optrede is vir ons net ’n groter motivering om voort te gaan met ons veldtog en om verdere stappe teen Malema en sy aanhangers te neem.”

Roets het ook aangedui dat die ANCYL se optrede in die stukke teen hulle gebruik sal word.

Oorsprong:Die Burger
http://www.dieburger.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1708/61981a3d59e6426b986608582971bb07/19-03-2010-03-10/Jeugliga_vertrap_en_verskeur_plaasmoord_name

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: