Boere van Kestell na bewering met onteiening gedreig

2010-03-22 01:16

Cathy Dlodlo

Boere in die Kestell-omgewing is woedend nadat die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit (wat dié dorp insluit) glo gedreig het om hul plase te onteien as hulle nie wil verkoop om plek te maak vir ’n ontwikkeling van miljoene rande wat ’n gholflandgoed insluit nie.

Só sê me. Leona Kleynhans, DA-raadslid van dié munisipaliteit.

Volgens haar is sommige plase al vir bykans 100?jaar in familie-besit. Dit sluit produktiewe kommersiële boerdery en nywerheidsondernemings in.

’n Boer en eienaar van verskeie plase sê hulle het ’n brief gekry wat sê die munisipaliteit het besluit om ’n ontwikkeling van 30000 erwe goed te keur.

Die brief in Volksblad se besit – gedateer 18 Februarie 2010 – sê die burgemeesterskomitee het op 11 Desember verlede jaar dié besluit geneem.

“In dié stadium is die enigste struikelblok die feit dat die geïdentifiseerde grond in private besit is. Die burgemeesterskomitee het besluit die munisipaliteit moet met onderhandelinge vir die koop van die grond begin.”

In die brief word grondeienaars ingelig dat hul grond deel van die beplande ontwikkeling is. Hulle word “vriendelik” versoek om met ene mnr. Cornelius Fouché in verbinding te tree.

Van die boere en Kleynhans bevestig dié middelman het gesê as hulle nie verkoop nie, gaan hul plase deur HOP-huise omring word of die munisipaliteit kan so ver gaan om hul plase te onteien.

Kleynhans is geskok. Sy meen dié plan is waansinnig. Boonop is dit nie op die beginsel van vraag en aanbod geskoei nie.

Alhoewel Fouché boere gedreig het met HOP-huisontwikkelings, blyk dit dat ’n gholflandgoed, behuising vir middel- en hoë-inkomstegroepe, sakeondernemings en regeringskantore beoog word. Erwe op die gholflandgoed gaan glo vir sowat ’n miljoen rand elk te koop wees.

Kleynhans sê die munisipaliteit is reeds in ’n finansiële penarie met R550 miljoen uitstaande dienstegeld.

Sy sê die munisipaliteit sukkel ook om 3200 laekoste-behuisingserwe op Harrismith te ontwikkel en kan nie eens basiese dienste soos die instandhouding van infrastruktuur vir die verskaffing van water aan inwoners lewer nie. Inwoners van Kestell sit soms dae lank aaneen sonder water.

Kleynhans sê volgens die munisipaliteit is die aankoop van die plase deur die Vrystaatse premier, mnr. Ace Magashule, goedgekeur en die provinsiale departement van menslike nedersettings gaan glo die geld vir die projek gee.

Sy sê daar is geen waardasies, omgewingsimpakstudies of enige aansoeke by die dorperaad ingedien nie.

“Die plan is glo om die grond vanjaar aan te koop en daarna die nodige aansoeke en beplanning te doen, maar boere wonder hoekom die grond wat destyds deur die Qwaqwa-tuisland van boere gekoop is, nog braak lê.”

Kleynhans sê daar is ’n hele paar redes hoekom die projek onwettig is:

Net die raad – en nie die burgemeesterskomitee nie – het die mag om grond te koop;
Die amptenare gaan voort om ’n besluit uit te voer wat nog nie voor die raad gedien het nie;
Die hersiene Ruimtelike Ontwikkelingsraamwerk sal glo eers in Mei gereed wees waarna die publiek se bydraes nog gekry moet word; en
Die planne is nie deel van die munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan nie.

Die munisipale woordvoerder kon nie vir kommentaar bereik word nie.

– Volksblad

Oorsprong:Volksblad
http://www.volksblad.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/2114/174fab50e9534a3aa5a7ebe84dc05a7a/22-03-2010-01-16/Boere_van_Kestell_na_bewering_met__onteiening_gedreig

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: