Aanvaller vlug toe egpaar bid

Vicus Bürger

’n Bejaarde egpaar van Bloemfontein wat in hul huis oorval is, het albei hardop gebid, waarna hul aanvaller die hasepad gekies het.

“Help ons, Jesus, help ons” en “Jesus wees met die man en vergewe hom vir wat hy doen”, het emeritus-professor Flippie Minnaar (83) en sy vrou, Louise (77), van Paul Rouxstraat in die spogwoonbuurt Dan Pienaar gebid.

Hulle was Saterdagaand tuis toe ’n seun van vermoedelik 16 of 17 jaar met “verwilderde oë” by die agterdeur van hul huis ingestorm het.

Hy het Minnaar met ’n stok met rubber vooraan oor die kop geslaan.

Minnaar, voorheen ’n professor in mediese fisika en kerngeneeskunde wat in ’n stadium by die mediese fakulteit van die Universiteit van die Vrystaat (UV) betrokke was, ly aan klierkanker.

“Hy is baie swak,” sê sy vrou.

Sy het opgespring en probeer keer.

“Ek het vir hom (die aanvaller) gesê: ‘Moenie vir oupa slaan nie. Hy het kanker en is baie siek.’?”

Sy het in ’n stadium die stok gegryp en die seun het dit uit haar hande geruk.

Haar man is verskeie kere gestamp en rondgegooi.

Die seun het selfs gedreig om mev. Minnaar te verkrag as sy hom nie met haar motor na ’n plakkerskamp bring nie.
Mev. Minnaar het egter kalm gebly en mooi met die aanvaller gepraat.

Volgens haar het hy toe rustiger begin word.

“Ek glo Christus het my daardie kalmte gegee.”

Hy het die egpaar gedwing om die kluis oop te sluit waaruit hy ’n .38-Colt-rewolwer en R1?000 gesteel het. Die jong aanvaller het boonop die egpaar se horlosies, ringe, mev. Minnaar se selfoon en ’n leerbaadjie wat sy in Egipte gekoop het, gebuit.

Uiteindelik is hulle beveel om op hul bed te gaan lê. Dit is toe wat die egpaar gebid en die aanvaller gevlug het.

Volgens die egpaar het die aanvaller telkens op sy selfoon gepraat. Hulle vermoed hy is aangesê wat om te doen.

“Hy is ’n amateur en heeltemal onervare,” sê mev. Minnaar. “Hy het iemand anders se opdragte uitgevoer.”

Die egpaar, wat 20 jaar getroud is, was gister nog in die Bloemfontein-Medi-Clinic en is erg getraumatiseerd. Hulle gaan vandag terug huis toe.

Die professor en sy vrou prys die Here dat hulle nog lewe.

Volgens mev. Minnaar koester hulle ook geen haat teenoor die “kind” wat hulle aangeval het nie.

“Ek kry die kind jammer. Ek is jammer vir hom omdat hy ’n verlore siel is.

“Hy word deur ander gebruik. Hy moet die vuilwerk doen,” sê sy.

Supt. Annelie Wrensch, polisiewoordvoerder, sê niemand is nog in verband met die huisrooftog in hegtenis geneem nie.

– Volksblad

Oorsprong:Volksblad
http://www.volksblad.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/2114/2bf0c0b7489b4b6d82aa501b355c0b96/22-03-2010-01-16/Aanvaller_vlug_toe_egpaar_bid

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: