‘ANC het dié boer se dood veroorsaak’

2010-03-12 22:43

Marietie Louw-Carstens

Agri SA gee ANC-politici die skuld vir nóg ’n plaasmoord in Limpopo gisteroggend.

Mnr. Jan Wheeler (65) is in die vroeë oggendure op ’n plaas sowat 10km buite Marble Hall vermoor waar hy as ’n bestuurder gewerk het. Hy is met ’n skerp voorwerp gesteek en verskeie kere geskiet.

Die moord kom drie dae nadat mnr. Julius Malema, president van die ANC-jeugliga, tydens ’n studentesaamtrek by die Universiteit van Johannesburg gesing het: “Skiet die Boere, hulle is verkragters.”

Dr. Theo de Jager, visepresident van Agri SA, het gister gesê: “Die ANC kan nie vra vir moord op boere en dan omdraai en sê hulle het niks daarmee te doen nie.”

Volgens hom veroorsaak uitsprake soos Malema s’n plaasmoorde. “Dit het destyds begin by Peter Mokaba en sy ‘kill the Boer, kill the farmer’. Dit kan nie so aangaan nie, daar sal ’n duidelike streep in die samelewing getrek moet word oor dié uitsprake. Die ANC kan nie vra vir nog plaasmoorde nie.”

Me. Marie Helm, streekbestuurder van TLU SA-Noord, het gesê Malema het met die sing van die liedjie gewys hy en die ANC het geen respek vir lewe nie. “Hulle skep daardeur ’n klimaat vir volksmoord en dit is vir hulle aanvaarbaar.”

Me. Helen Zille, DA-leier, het gesê pres. Jacob Zuma se weiering om homself van die liedjie “Kill the Boers, they are rapists” te distansieer, suggereer dat hy sy “goedkeuring gee om mede-Suid-Afrikaners dood te maak”, berig Sapa.

Wheeler is die vyfde mens wat binne drie weke op plase in Limpopo vermoor is.

Volgens mnr. Paul Jacobson het van die plaaswerkers glo eergister inligting gekry dat daar ’n aanval op Wheeler, sy oom, gaan wees. Hulle het die eienaar van die plaas waarop Wheeler gebly het daarvan ingelig.

Die eienaar het die polisie daaroor gebel. Jacobson het gesê die veiligheidshek by die agterdeur van sy oom se huis is oopgebreek. Wheeler is in die hoofslaapkamer oorval.

Hy was alleen tuis, want sy vrou, Lorraine, is in die Groblersdal-hospitaal met ’n gebreekte been.

Supt. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê Wheeler is eers met ’n skerp voorwerp gesteek, waarna hy verskeie kere geskiet is.
Jacobson het gesê ’n ketel, mikrogolfoond, elektriese braaier, stoompot en twee DVD-spelers is uit die huis gesteel. Die aanvallers het in Wheeler se vragmotor gevlug.

Otto het gesê die polisie sal ondersoek instel na die wenk wat glo oor die aanval deurgegee is.

’n Spesiale span polisielede is volgens haar saamgestel om Wheeler se moordenaars vas te trek.

Teen druktyd is niemand nog in hegtenis geneem nie.

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/e691b6578f514379a819537c39a41193/12-03-2010-10-43/%E2%80%98ANC_het_di%C3%A9_boer_se_dood_veroorsaak%E2%80%99

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: