‘Dit was net bloed’ in Vaal-aanval

Me. Sophie Jonas, ’n plaaswerker, was die bloedkolle op die mat uit. Foto: nicolize van der walt

2010-01-26 01:50

Nicolize van der Walt

Stilfontein. – ’n Vrou is gisteroggend net ná middernag in haar huis op die oewer van die Vaalrivier met ’n panga aangeval en vir dood gelos.

Mev. Theresa Eksteen (51) was teen druktyd in ’n stabiele, maar ernstige toestand.

Sy word in die hoësorgeenheid van ’n plaaslike private hospitaal verpleeg.

Eksteen is gister geopereer en penne is onder meer in haar beseerde hand geplaas.

Volgens haar familie ly sy steeds aan erge skok en verduur sy heelwat pyn.

“Ons vermoed dit was ’n wraakaanval deur ’n werknemer wat in Desember afgedank is. Hy het haar wang tot op die been van die kaak oopgeslaan, sy is oor die kop geslaan, haar hande is stukkend gekap en haar pinkie byna af.

“My kind het ongelooflik baie bloed verloor.

“Iemand is in hegtenis geneem, maar ons weet nog nie wie dit is nie,” het mev. Hilda Hodges, Eksteen se ma wat ’n paar meter verder op dieselfde rivierhoewe bly, gister gesê.

“Sy het hier aan ons deur geklop. Sy kon nie praat nie en kon skaars staan.

“Dit was net bloed wat gestroom het,” het Hodges, wat self agt jaar gelede die slagoffer van ’n plaasaanval in die Magaliesburg-omgewing was, gesê.

Hodges se man, Norman, het by die bure gaan hulp soek.

“In ’n oogwink was hier boere wat ons kom bystaan het.

“Hulle het die polisie en ambulans gereël,” het mev. Hodges gesê.

Volgens haar man het die polisie bevestig die wapen wat in die aanval gebruik is, is in die verdagte se besit gekry.

In Eksteen se huis was die bed, beddegoed, gordyne en matte in haar kamer en in ’n groot deel van die kombuis deurtrek van bloed. “Dis soos sy na die voordeur toe gestrompel het om hulp te gaan soek. Dis wreed. Maar die Here is goed vir ons. Ons kry baie krag van Bo. Sy sal orraait wees…”

By Beeld se besoek het van die bure en werkers ingespring om die huis op te ruim en die bloed af te was. Eksteen se man, Joe, werk glo in Zimbabwe waar hulle selfoontorings oprig en sal na verwagting vanaand by die huis wees om sy vrou by te staan. Die egpaar het twee volwasse kinders en een kleinkind.

Kapt. Msisithela Selima, Vrystaatse polisiewoordvoerder, het bevestig ’n verdagte is in hegtenis geneem. “Die ondersoek duur voort. Dit lyk of die verdagte vandag (gister) sekere uitwysings aan die polisie wil doen. Dit is onduidelik wat alles geroof is.”

– Beeld

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/81c07dd929c6474298c7c5b3321455c5/26-01-2010-01-50/%E2%80%98Dit_was_net_bloed%E2%80%99_in_Vaal-aanval_

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: