Vir niks op straat vermoor

Mev. Tanya de Bruin dreig om haar eie lewe te neem nadat haar man voor haar doodgeskiet is.Foto: Alet Pretorius

2009-12-09 23:10

Virginia Keppler

Mnr. Petrus de Bruin (45) is in Pretoria vir niks op straat doodgeskiet.

Al wat hy by hom gehad het, was ’n kospakkie wat hy en sy vrou by sy bejaarde ma gaan haal het omdat hulle nie iets gehad het om die aand te eet nie.

Toe die gewapende rower hom en sy vrou, Tanya (40), eergisteraand in Wespark voorkeer, het hy net ’n paar sigarette, ’n stukkie vleis, twee tamaties, ’n ui en twee aartappels by hom gehad.

“Petrus het dadelik gesê: ‘Wag bra, hierso’, en het afgebuk om die kospakkie en sy sigarette op die grond neer te sit, toe die man hom skiet,” het mev. De Bruin gister huilend vertel.

“Die rower het my eers op die grond vasgetrap en Petrus bo-oor my in die kop geskiet.”

Die rower het sonder die kospakkie gevlug.

Mnr. De Bruin is kort daarna in die Steve Biko-hospitaal dood.

Die De Bruins van Hermanstad was op pad na hul woning toe hulle naby die hoek van Kerkstraat en Transoranjeweg oorval is. Hulle het die kos by mev. Kotie de Bruin (80) gaan vra omdat hulle niks gehad het om te eet nie.

Wagte van die ADT-veiligheidsmaatskappy was eerste op die toneel, gevolg deur die polisie en toe die ambulans.

Mev. Angelique Els (28) het gesê dokters het byna ’n uur lank gespook om haar oom se lewe te red.

“Die verpleegsters het later gehuil,” het sy gesê.

Mev. De Bruin het gesê haar man se moordenaar wou nie die kos hê nie.

“Hy wou Petrus doodskiet.”

Sy het gesê dit is nie die eerste keer dat hulle in dié omgewing deur rowers aangeval is nie.

“’n Paar maande gelede is ons ook byna beroof. Een rower het bo-op Petrus se rug gespring. Gelukkig het ’n veiligheidswag dit gesien en ons kom help.

“Die rowers het toe weggehardloop.”

Mev. De Bruin het gesê sy was heeltemal afhanklik van haar man en sal nie sonder hom kan voortgaan nie. Sy het huilend vertel dat sy oorweeg om selfmoord te pleeg.

Mev. Alida Oberholster (50), mnr. De Bruyn se suster, het gesê sy dood is vir hul hele familie ’n groot skok.

“My ma is 80 jaar oud en is erg geskok. Petrus was haar jongste seun,” het Oberholster gesê.

Die egpaar was afhanklik van mnr. De Bruin, ’n epilepsie-lyer, se R1 000 per maand ongeskiktheidstoelae. Hulle het in ’n enkelkamer by die Pams’ House-sorgsentrum gewoon.

Die egpaar se seun, Petrus jr. (18), is ook getraumatiseerd. Hy is tans by ’n vriendin en haar familie in Valhalla in Centurion.

Oberholster het gesê Petrus was ’n baie goeie mens wat altyd met die laaste bietjie wat hy gehad het ander mense gehelp het.

“Al was hy hóé arm, sou hy jou sy laaste R2 gegee het om jou te help,” het sy gesê.

“Nou moet ons ’n begrafnis reël wat ons meer as R4 000 gaan kos en daar is nie geld nie,” het sy hartseer gesê.

Kapt. Dumisani Ndlazi, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie ondersoek die voorval.

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/6b28fd29cd72417fa2567d6fb15d0be3/09-12-2009-11-10/Vir_niks_op_straat_vermoor

One Response

  1. Na Petrus, my jongste broer vermoor is het ek inligting verkry, dat die ambulans weggewys is by die naaste hospitaal. (Kalefong) en na die Steve Biko moes jaag. Kon sy lewe dalk betyds gered gewees het? Waarom is hy weggewys?Waarom het ek die omgewing alleen deursoek sonder dat enige polisieman daar was of gebly het- binne n halfuur na sy moord?Louis De Bruin

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: