‘Shut up! Waar is die geld?’

2009-10-03 02:21

Carina van Wyk

‘n Geoktrooieerde rekenmeester van die Vanderbijlpark-omgewing het gisteroggend ’n uur lank met ’n skietwond op sy kombuisvloer gelê terwyl sy familie vasgebind en sy huis geplunder is.

Mnr. Ken Coleman (45) was teen druktyd in ’n stabiele toestand in die Medi-Clinic in Vereeniging se waakeenheid.

Coleman het omstreeks 01:30 rowers by sy huis in Millionaire’s Bend langs die Vaalrivier hoor inkom. Hy het sy rewolwer gegryp en is by die slaapkamer uit, waarna hy geskiet is.

Sy vrou, Belinda (41), wat nie die skote gehoor het nie, het wakker geword van ’n geritsel by blindings in hul slaapkamer.

Die rowers het hul dogter Shannon (14), me. Marie Coleman (68), mnr. Coleman se ma, en sy broerskind, Bradley Fos (13), na die kamer gebring en vasgebind.

Bradley, wat op die sitkamerbank geslaap het, het vir Belinda Coleman gesê haar man is geskiet.

“Ek het gehuil en gevra om my man te sien. Hulle het gesê shut up en gevra waar die geld is,” het sy gister by die hospitaal vertel. “Ek het nie geweet of my man nog leef nie.”

Die vyf rowers het die huis deursoek vir geld en waardevolle goed. Die familie is later beveel om sitkamer toe te gaan, waar hulle weer vasgebind is. “Ek het Ken op die kombuisvloer sien lê en gesien hy beweeg,” vertel Belinda Coleman.

Coleman het die rowers gevra of hy van die vloer af kan opstaan, want dis baie koud, waarna sy vrou hom gehelp het om op te staan en op die bank te gaan lê.

“Hulle het Bradley toegelaat om vir hom (Coleman) water te gaan haal. Toe het ek agtergekom hulle wil ons nie doodmaak nie.”

Nadat die rowers die huis geplunder het, moes Bradley vir hulle wys hoe om Coleman se Mercedes-Benz ML500 aan die gang te kry.

Daarna het Bradley die tuinwoonstel waarin Hendrik Coertzen woon, se deur oopgebreek toe hy nie van die geklop wakker geword het nie. Coleman is Coertzen, ’n professionele tennisspeler, se agent.

“Toe lê Ken op die bank, bloedbad in die huis,” het Coertzen gesê. Volgens hom is die koeël deur Coleman se arm en by sy bolyf in. “As dit so ’n entjie hoër was, was dit deur die hart.”

“Ek was só bang my pa gaan dood. Hy het gesukkel om asem te haal. Dit was vreesaanjaend,” het ’n geskokte Shannon gesê.

Coleman het gistermiddag uit sy hospitaalbed geskerts: “Dit gaan baie goed. Net solank hulle die morfien gooi.”

Die rowers het met onder meer geld, juwele, selfone, ’n TV-stel en ander elektroniese goed gevlug.

Die polisie ondersoek aanklagte van huisroof en poging tot moord.

Volgens insp. Mzinkhulu Mthimkulu is die motor in Vosloorus aan die Oos-Rand opgespoor. Niemand is al gearresteer nie.

– Beeld

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/64ca2c0ebe58490992302d7baebbbcb7/03-10-2009-02-21/%E2%80%98Shut_up!_Waar_is_die_geld%E2%80%99

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: