Tragies, maar dit is nodig, sê bekendes wat name uitlees

2009-09-18 06:42

Fanie van Rooyen

“Ek het op die platteland tussen boere grootgeword, so hierdie is ’n saak wat my baie na aan die hart lê.”

So het Lianie May, bekende sangeres, gister by die ateljee van Solidariteit Radio in Kloofsig in Pretoria gesê.

May, asook ander bekendes soos Gerrie Pretorius en dr. Allan Boesak, het gister gehelp om ’n lys van 1650 name van slagoffers van plaasaanvalle oor Solidariteit Radio (www.solidariteitradio.co.za) uit te lees.

Kort beskrywings van die aanvalle is ook voorgelees.

Dié spesiale program sou na verwagting van 08:30 tot 16:30 gister geduur het.

“My pa is ’n boer en ek is net te dankbaar hy het hierdie soort geweld tot dusver vrygespring,” het May gesê.

“Van my pa se vriende is wel al deur plaasaanvalle geraak.”

Sy het gesê dit is “skrikwekkend” om te hoor hoe gewelddadig die aanvalle is en dat dit byna daagliks gebeur.

“Ek glo dit is baie belangrik dat die kwessie meer blootstelling moet kry.”

Boesak het gesê hy het besluit om deel te neem omdat misdaad “een van die groot bedreigings vir die welsyn van die land se demokrasie is”.

“Ek is bekommerd oor die groeiende golf van gewelddadige misdaad in die land,” het Boesak gesê.

“Misdaad raak ons almal, ongeag van ras, geloof of klas en ons moet opstaan en mekaar die hand vat om dit te beveg.”

Pretorius het gister gesê ’n vriend van hom is verlede week op ’n plaas in Bultfontein deur rowers keelaf gesny.

“Dit is vir my tragies dat so ’n inisiatief enigsins nodig moet wees, maar ek glo dit is belangrik,” het Pretorius gesê.

“Dit is emosioneel uitputtend om hierdie name en beskrywings uit te lees maar ek glo hierdie soort skok-bewusmaking is werklik nodig.”

Mnr. Wynand Hart, ’n boer wat in 2001 saam met sy gesin van sy plaas in Zimbabwe af gejaag is en wie se ma sowat twee weke gelede in ’n plaasaanval in Zimbabwe vermoor is, het ook gister gehelp name uitlees.

“Twee vragmotors vol aanvallers het my en my gesin destyds van ons plaas af gejaag,” het Hart gesê.

“Ons het alles verloor en moes heeltemal oor begin.

“Nou, net so twee weke gelede, moes ek hoor hulle het my ma in haar huis verwurg.

“My pa was by vriende om die Drienasies-rugby te kyk en toe hy by die huis kom, het hy my ma dood daar aangetref.”

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/3e28e5cddc6a488987009589259d0610/18-09-2009-06-42/Tragies,_maar_dit_is_nodig,_s%C3%AA_bekendes_wat_name_uitlees

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: