‘Lekker!’ sê rower nadat hy man skiet

Misdaadtrane. Mev. Hannetjie Schäfer (62) vertel hoe rowers haar man voor haar geskiet het. Foto: CORNÉL VAN HEERDEN

2009-09-01 00:53

“Lekker!”

So het ’n rower eergistermiddag laggend vir ’n 62-jarige man van Villieria in Pretoria gesê nadat hy hom geskiet het.

Mnr. August Schäfer (62) en sy vrou, Hannetjie (62), is eergistermiddag om 17:30 tuis deur drie gewapende rowers oorval.

Hy het op ’n stoel by die agterdeur gesit en vrugte vir konfyt prik, terwyl sy vrou in hul kleinseun, Stanley Naudé (23), se kamer gelê het.

Naudé het gesê volgens sy oupa het die rowers ’n rewolwer teen sy mond gedruk en gesê hy moet stilbly. “Twee het hom aan elke arm gegryp, terwyl ’n derde een by die huis ingegaan het. Hy het verby my kamer waar my ouma gelê het na die hoofslaapkamer gestap,” het hy gesê.

Mev. Schäfer het gesê sy het opgestaan toe sy ’n geskuif van voete buite hoor.

“Toe ek deur die venster kyk, het ek die twee mans aan elk van my man se sye gesien.

“Asseblief, los my man! Moet hom nie skiet nie!” het sy vir die rowers geskreeu.

“Maar dit het hulle nie gekeer nie, want die volgende oomblik het hulle hom voor my oë geskiet. Ek het nog die vuurwapen se blou vlam gesien,” het sy huilend vertel.

Mnr. Schäfer is in die linkersy gewond. Die koeël het sy regterheup gebreek en sy blindederm, dunderm en dikderm deurboor.

“Ek het daarna ses keer 10111 probeer bel, maar kon nie deurkom nie. My buurvrou het later deurgekom en die polisie ontbied,” het mev. Shäfer gesê. Sy het gesê die polisie het eers ’n driekwartier later opgedaag.

“Ek het by my man gekniel en gesien hoe die bloed by sy mond uitborrel. Ek het die hele tyd vir hom gesê hy moenie doodgaan en my alleen los nie.”

Naudé, wat kort ná die voorval by die huis opgedaag het, het sy oupa op sy sy gedraai sodat die bloed uit sy mond kon loop. “Daarna het ek hom die hele tyd wakker probeer hou. Ek het gevoel hoe my oupa se hande koud raak,” het ’n steeds geskokte Naudé gesê.

Mnr. Schäfer word tans in die Steve Biko-hospitaal behandel waar hy in ’n ernstige toestand is.

Mnr. Cecil Naudé, die egpaar se seun, het gesê die rowers het gevlug met net sy ma se handsak. Haar rybewys, identiteitsdokument en bankkaart was daarin.

Volgens mev. Schäfer het die rowers ook iets in hul hond se gesig gespuit, want hy het daarna aanhoudend genies en geproes.

Me. Aveline Hardaker, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie ondersoek ’n klag van huisroof en poging tot moord.

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/ba1500b8b0d044da8d3892fe2a7c53ed/01-09-2009%2012-09/%E2%80%98Lekker!%E2%80%99_s%C3%AA_rower_nadat_hy_man_skiet

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: