Boewe wag 2 by voordeur in

Jul 30 2009 08:51:21:193PM – (SA)

Hilda Fourie

Twee mans is gisteroggend koelbloedig deur vier misdadigers geskiet en gewond toe hulle by hul voordeur uitgestap het om te gaan werk.

’n Werknemer van mnre. Flip Nel (46) en Christo Smit (42) het hulle kort ná die skietery op die voorstoep van hul huis op ’n kleinhoewe by Elandsfontein, wes van Pretoria, gevind.

Nel, eienaar van ’n blommewinkel in Ifafi by Hartbeespoortdam, is in die bors geskiet en Smit, ’n werknemer van Prime Products, ’n fabriek wat kosmetiek vervaardig op die perseel van die Suid-Afrikaanse Kernenergiekorporasie (Sakek) by Pelindaba, in die maag.

“Hulle (Nel en Smit) is blindelings geskiet. Hulle het net by hul huis uitgegaan, toe word hulle geskiet,” het mnr. John Foulds (52), ’n buurman, gesê.

Volgens Foulds het die misdadigers vroeër die oggend by die mans probeer inbreek, maar was hulle onsuksesvol.

Hulle het toe by die mans se voordeur gaan wag totdat hulle werk toe gaan.

Toe die mans by hul voordeur uitstap, is hulle geskiet.

Foulds het gesê ’n werknemer van Nel en Smit het hulle net ná die skietery op die voorstoep gekry. Hy het hulle in die portaal ingesleep, ’n kombers oor hulle gegooi en gaan hulp soek.

Volgens Foulds het hy omstreeks 06:00 sewe skote gehoor, maar hom nie daaraan gesteur nie omdat dit ’n alledaagse geluid in dié omgewing is.

Kort daarna het die werknemer aan sy kamervenster kom klop en gesê hy moet help en die polisie en ’n ambulans ontbied.

Nadat Foulds 10111 gebel het en dié hom na die provinsiale ambulansdiens deurgeskakel het, het hy hom na sy bure se kleinhoewe gehaas.

“Albei het in die portaal in ’n plas bloed op die vloer gelê,” het Foulds gesê.

“Ek het vir elkeen ’n kussing gekry en probeer om hulle gemaklik te maak.

“Christo het gesê hy is dors. Flip het gevra ek moet hom help, want hy het baie seer. ’n Mens kon sommer sien hoe seer hy het.”

Volgens Foulds het hy sowat twee uur lank gesukkel om die polisie en ’n ambulans te kry om na die kleinhoewe te kom.

Later het hy ’n nommer van ’n polisiesersant by die mans gekry. Die sersant kon daarin slaag om die polisie op die toneel te kry.

“Terwyl ons vir hulle (die polisie) wag, lê en bloei en suffer hulle (Nel en Smit) op die grond,” het Foulds gesê.

Die mans is uiteindelik met die Netcare 911-helikopter na die Steve Biko-hospitaal in Pretoria geneem.

Albei se toestand was teen gistermiddag nog ernstig.

Kapt. Dumisani Ndlazi, polisiewoordvoerder, het gesê hy kan nie bevestig of ontken nie dat dit die polisie lank geneem het om by die toneel uit te kom.

“Ons sal altyd sulke bewerings kry,” het Ndlazi gesê.

Volgens Ndlazi het die misdadigers die mans se huis geplunder en die geroofde items in die mans se voertuig gelaai en gevlug.

Dié voertuig is later verlate in Kerkstraat gevind.

’n Saak van poging tot moord en huisroof word deur die trio-taakspan ondersoek.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2543642,00.html

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: