Skok-skoot red dalk haar lewe

Jul 12 2009 08:44:30:750PM – (SA)

Johan Brits

Kroonstad. – ’n Geweerskoot wat ’n plaasvrou per ongeluk uit skok afgevuur het, het waarskynlik haar lewe gered.

Haar 64-jarige man veg egter in ’n kritieke toestand om sy lewe in die Kroon-hospitaal hier.

Mev. Elsabé Boshoff (57) het gesê haar man, Louis, se milt en die helfte van sy pankreas is in ’n operasie verwyder nadat hy vroeg gisteroggend in ’n plaasaanval geskiet is. Sy lewer en maag is ook deur die koeël getref.

“Hy het geweldig baie bloed verloor. Hy is aan ’n asemhalingstoestel gekoppel,” het ’n geskokte Boshoff gister gesê.

Boshoff het gesê sy was in die huis doenig toe sy gisteroggend haar man buite die huis hoor skree het.

Die egpaar het ’n weerstasie op hul plaas, Viljoenslaagte. Mnr. Boshoff neem elke oggend ’n weerlesing. Hy was buite die huis juis om ’n weerlesing te neem.

“Toe ek hom hoor skree, het ek in die gang afgehardloop om te gaan kyk wat fout is.”

Sy het haar trompop teen ’n man vasgeloop. “Hy het geld gevra. En hy het gesê hy gaan my verkrag en skiet. Ek het aangebied om hom geld te gee.

“Ek het heeltyd die Here se naam aangeroep. Ek dink dit het hom ’n bietjie ongemaklik gemaak,” sê sy.

Hy het haar aan die arm gegryp en buitentoe geneem, waar ’n ander man by haar man was. “Toe ons buite kom, het hy my arm gelos. Ek het in die huis ingehardloop om ’n vuurwapen te kry.”

Nadat sy die vuurwapen gekry het, het sy skielik twee geweerskote buite die huis gehoor. “Ek het so groot geskrik dat ek per ongeluk ’n skoot geskiet het.”

Boshoff dink die twee mans het gedink sy skiet op hulle. Hulle het toe weggehardloop.

Sy het haar man buite gevind. Hy is op ’n kort afstand van agter geskiet.

Mnr. Boshoff was teen druktyd in ’n kritieke toestand in die hoësorg-eenheid.

Supt. Ismael Nqai van die polisie sê twee mans en nog ’n verdagte is gistermiddag in hegtenis geneem.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2538155,00.html

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: