Hart óf wond eis boer

May 21 2009 08:26:48:860PM – (SA)

Amanda Roestoff

’n Boer (74) is gisteroggend vermoedelik weens óf ’n hartaanval óf ’n kopwond dood nadat hy op sy kleinhoewe by Elandsfontein, sowat 10 km buite Fochville, aangeval is.

Drie verdagtes is intussen vasgetrek en word weens die moord op mnr. Koos Maas ondervra.

’n Buurman het sy lyk met sy hande steeds vasgebind ontdek nadat sy vrou, Anna (72), haarself binne die huis kon loswikkel en hulp ontbied, het supt. Hennie Maas, stasiekommissaris van die Fochville-polisiekantoor, gesê.

Die oorledene is ’n neef van die stasiekommissaris se pa.

Mnr. Maas is omstreeks 05:00 by die huis uit om oudergewoonte die waterpomp aan of af te skakel.

Drie of meer mans het Maas vermoedelik oorval terwyl hy op pad was om ’n hek oop te maak.

“Hy is vasgebind en vermoedelik met ’n stomp voorwerp oor die kop geslaan,” het supt. Maas gesê.

Mnr. Maas is toe vir dood agtergelaat.

Die rowers is toe na die huis waar hulle mev. Maas oorval het.

Hulle het haar na die hoofslaapkamer geneem en daar vasgebind en aangehou, terwyl hulle geld en vuurwapens geëis het.

Die rowers het met ’n 9 mm-pistool en ’n onbekende bedrag geld gevlug.

Mev. Maas het haarself ’n hele ruk later losgewikkel gekry en hulp ontbied.

’n Buurman het haar man se lyk omstreeks 07:30 ontdek.

Volgens die polisie sal die presiese oorsaak van mnr. Maas se dood tydens ’n lykskouing bepaal word.

Daar word vermoed hy het dalk weens die skok ’n hartaanval gehad nadat hy aangerand is.

Supt. Maas het gesê drie mans in hul twintigs is in die woonbuurt Kokosi naby die kleinhoewes vasgetrek.

Hulle is nog nie amptelik in verband met die aanval aangekla nie, maar word ondervra.

“Ons wil nog kyk of ons die mans positief met die misdaad kan verbind,” het supt Maas gesê.

Mnr. Trevor Slabbert, voorsitter van brand- en rampbestuur van Fochville se boeregemeenskap, het gesê dit is vir boere onaanvaarbaar dat die regering nie genoeg aandag aan die aanvalle en moorde op plase gee nie.

“Ons verwag iemand (in die regering) moet nou opstaan en sê ‘genoeg is genoeg’.

Hulle moet nie net praat nie! Hulle moet ook iets daaromtrent doen!”

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2520500,00.html

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: