2 stokkiesdraaiers in parkie beroof

Die rower het haar op die skouer gebyt. Foto: Theana Calitz

Mar 03 2009 10:04:14:410PM – (SA)

Virginia Keppler

Gewapende rowers het gister vier hoërskoolleerlinge in drie voorvalle in ’n parkie in Sinoville, Pretoria, aangerand en van hul selfone beroof.

Twee stokkiesdraaiers was die eerste slagoffers, waarna twee meisies ook deurgeloop het.

Een van hulle het ’n meswond opgedoen.

Kirsty Ivy het gesê sy en Henko Schoeman (albei 17), onderskeidelik in gr. 10 en gr. 11 aan die Hoërskool Overkruin, het in die parkie tussen Marija-straat en Wildeamandellaan gesit en wag dat die skool se klok om 11:00 moet lui sodat hulle by die skool kon insluip.

’n Man in ’n blou broek en rugbytrui het hulle genader.

“Hy het gevra vir ’n aansteker en toe sê ons nee.”

Albei se selfone het op Kirsty se skoot gelê omdat sy besig was om musiek van Henko se foon na haar foon oor te laai.

“Die man het ons albei hard geklap en die selfone van my skoot af gegryp. Ek het die foon probeer teruggryp, maar toe klap hy my en ek laat dit op die grond val.

“Ek het hom aan sy been gegryp en probeer om die fone terug te kry. Die man het my toe op my kop, in my gesig en skouers geklap, my geskop en op my regterskouer gebyt,” het sy gesê.

Henko het intussen na ’n huis daar naby gehardloop en om hulp geskreeu. Toe hy sien Kirsty sit die man agterna, het hy ook agter hulle aangehardloop.

In Marijastraat het hulle ’n maroen bakkie voorgekeer en om hulp geskreeu.

“Die bestuurder en nog ander mense het nader gehardloop en die rower in Wildepeerlaan aangekeer en sy hande met plastiekkabels vasgebind.

“Iemand het op ons fone gebel en toe hoor ons dit in die man se broeksak lui,” het Kirsty gesê.

Sy en Henko moet nou verduidelik hoekom hulle stokkies gedraai het. “My pa is in Tanzanië en as hy terugkom, gaan ek moet boet,” het Henko gesê.

“Ek sal vir seker nie weer skool bunk nie.”

Later in die dag is Louré Odendaal (16), ’n gr. 11-leerling aan die Hoërskool Overkruin, in dieselfde parkie oorval, byna met ’n mes gesteek en van haar selfoon beroof.

Daarna het rowers ’n 16-jarige leerling van die Hoërskool Mon?tana met ’n mes in die arm gesteek en van haar selfoon beroof.

Albei leerlinge het aan die polisie gesê daar was tussen drie en vier rowers en hulle het in ’n donkerkleurige Citi Golf gery.

Me. Mirna von Beneke, polisiewoordvoerder, het gesê die 22-jarige verdagte in die rooftog op Kirsty en Henko is ’n immigrant van Tanzanië.

Die polisie vermoed dit is dieselfde groep rowers wat die leerlinge aanval en beroof, het Von Beneke gesê.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2479483,00.html

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: