Spogplaas nou vervalle

Bo, mnr. Sias Strydom se plaashuis drie jaar gelede. (Onder) Só lyk die huis nou.

14/02/2009 21:41 – (SA)

Willem Pelser

Hazyview

Skaars drie jaar gelede was mnr. Sias Strydom se familieplaas Altyd Beter naby Hazyview ’n spogplaas waarop enige piesangboer trots sou gewees het.

Toe die Giba-gemeenskap ’n grondeis teen die plaas ingedien het, was die piesangboorde, trekkers en pakhuise in so ’n goeie toestand dat die regering Strydom R3,2 miljoen vir die grond aangebied het.

Die piesangs het geil gegroei in dié vrugbare aarde en die drie huise op die plaas was pynlik netjies.

Toe neem die staat die grond oor. Aanvanklik het alles goed gegaan.

Die projek is destyds voorgehou as ’n voorbeeld van hoe grondhervorming in Suid-Afrika eintlik gedoen moet word om te slaag. Die geheim is samewerking tussen boer en grondeiser, is toe gesê.

Mediagroepe het joernaliste en fotograwe gestuur om na die suksesverhaal te gaan kyk. Maar binne drie jaar het dinge drasties verander.

Verlede week het Strydom self gaan gaan kyk hoe dit nou daar lyk.

“Wat ek gesien het, het my letterlik laat huil van ontsteltenis,” vertel Strydom die afgelope week.

Toe trekkers langs ’n piesangboord gebreek het, het die nuwe eienaars dit net daar gelos. Later is die stukkende trekkers vir onderdele gestroop – om te verkoop, óf om in ander trekkers te gebruik.

Toe die kweekhuise se dakke afgewaai het in ’n storm, is dit net so laat staan. Onderdele van die plaas se waterpompe, wat in Strydom se tyd die boorde gevoed het, is stuk-stuk weggedra.

Die netjiese vierslaapkamerhuis waar hy en sy gesin gewoon het, is erg verwaarloos. ’n Tweede huis, wat Strydom verhuur het, is nou ’n murasie.

Nagenoeg 37 ander boere in sy omgewing het ook aan die staat verkoop. Hulle is ruim vergoed: tussen R30 000 en R100 000 per ha.

Maar vir die meeste boere, soos Strydom, was dit nie genoeg om weer ’n boerdery van dieselfde kaliber elders te begin nie. Strydom het ‘n hoewe gekoop en ’n tuisnywerheid begin.

Die 1 500 plaaswerkers wat vir Strydom en die ander boere gewerk het, was die groot verloorders toe die grondeisers die plase oorgeneem het. Die meeste het hul werk verloor omdat die grondeisers die plase self wou bewerk, sê Strydom.

Die omstrede landboumaatskappy SAFM (South African Farm Ma-nagement) is in 2006 deur die regering aangewys om die 38 plase te bestuur. Die hele gebied se plase het toe bekend gestaan as een groot plaas Burgershall.

Die afgelope drie jaar het die hele projek met rassse skrede agteruitgegaan: SAFM het feitlik heeltemal in duie gestort en na bewering skuld dié maatskappy Absa meer as R100 miljoen.

Boonop het ’n dispuut tussen twee groepe grondeisers verlede jaar ontstaan oor wie presies die regmatige eienaars is van die 38 plase. Boerdery-bedrywighede en instandhouding het erg gekwyn.

Vandag sal dit R6 miljoen kos om sy eertydse plaas weer te herstel tot wat dit destyds was, sê Strydom.

Die Burgershall-grondeis wys presies wat verkeerd is met grondhervorming, sê dr. Theo de Jager, adj. pres. van Agri SA.

“Die regering moet ewe veel aandag skenk aan landbou-ontwikkeling as aan grondhervorming. Dis tog twee kante van dieselfde muntstuk,” sê De Jager.

Hy sê die staat hou hom bloot besig met die herverdeling van grond – sonder om aan die sake- of produksie-kant van die landbou te dink. Volgens De Jager is daar ook byna geen samewerking of sinergie tussen staatsdepartemente wat met landbou gemoeid is nie.

“Die verskillende departemente praat eenvoudig nie met mekaar nie. Elke week bel ’n staatsdepartement ons by Agri SA om te hoor wat sê ’n ander staatsdepartement hieroor of daaroor,” sê De Jager.

Met druktyd kon kommentaar nog nie verkry word van die kommissie op die herstel van grondregte in Nelspruit nie.

Oorsprong:Rapport
http://www.news24.com/Rapport/Suid-Afrika/0,,752-2460_2470100,00.html

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: