Woeste aanval by oord

Glasstukke van die bottels waarmee die vroue gegooi is.

Feb 05 2009 05:14:08:177PM – (SA)

Alta Snyman

Rustenburg. – ’n Groep vriende het baie vrae ná ’n twee uur lange aanval op hulle twee weke gelede by die bekende Kloof-vakansieoord in die stad.

Die drie rowers het aanmekaar geskree: “We’re here to kill you,” toe een van die vroue haar skootrekenaar en motor vir hulle aangebied het sodat hulle moet padgee.

Die dreigemente van die aanvallers, die onbehulpsame houding van die oordbestuur, dat niemand blykbaar iets gehoor het terwyl hulle aangeval is nie en die polisie se optrede laat hulle wonder.

Des Pretorius (24), haar vier vriendinne en ’n vriend, almal van Pretoria en Centurion, het die aand in die oord se swembad gaan swem. Twee van die vroue het vroeg gaan slaap. Later het Des en Chantal ook teruggegaan. Elodi Earle en Coenraad het nog geswem.

Toe Des en Chantal geluide hoor, het hulle gedink dis Elodi en Coenraad. Des het ’n man by die kombuisvenster betrap. Hy het weggehardloop, maar was gou terug met sy makkers.

“Hulle het die voordeur met ’n koevoet begin oopbreek. Ons het die deurhandvatsel opgedruk, maar die deur het meegegee.”

Die vroue het in die badkamer gaan wegkruip en Des het die badkamerdeur van binne toegedruk. “Gelukkig is ek sterk.”

Die aanvallers het diefwering oopgebuig en ingeklim. Twee het die badkamerdeur met die koevoet begin oopbreek terwyl die derde verwoesting gesaai het.

“Die gat in die deur was groot en ek moes die onderste deel met my knie teen die kosyn vasdruk. Hulle het met die koevoet deur die gat geslaan en bottels na ons gegooi.”

Des is teen die kop getref, maar sy kon die koevoet raakgryp.

“Ek het my skootrekenaar en my kar aangebied, maar hulle het gesê hulle is hier om ons dood te maak,” sê Des.

Toe Elodi en Coenraad buite stilhou, het die aanvallers gevlug met drie selfone en die skootrekenaar.

Die vroue het geen hulp van die oordbestuur gekry nie. (Die oordbestuur het vroeër by navraag geweier om kommentaar te lewer.)

“Ons het die polisienoodnommers herhaaldelik met selfone gebel, maar niemand het geantwoord nie. Later het ons iemand gebel wat die Rustenburg-polisiekantoor gebel het.”

Des het verskeie kneusings en snyplekke opgedoen en haar kop het vreeslik gebloei waar die bottel haar getref het. Sy moes die nag in die hospitaal deurbring.

“Die polisie wou weet hoekom Coenrad alleen saam met vyf meisies is en waarom ons enkellopend is. Hulle het eers ’n week na die aanval die koevoet gevat toe hulle ons verklarings kom afneem het.”

Hulle oorweeg dit om ’n klag oor die polisie se optrede in te dien.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Noordwes-Beeld/0,,3-2184_2465003,00.html

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: