Sakeman jaag in muur vas ná skote

Me. Van Straten en haar seun, Erik van Eeden. Foto: Mario van de Wall

Feb 04 2009 09:37:08:203PM – (SA)

André Damons

’n Sakeman van Midrand, noord van Johannesburg, het teen ’n muur vasgejaag nadat hy eergister deur rowers in die long en hart geskiet is en van sy aanvallers probeer vlug het.

Hy is op die toneel dood.

Mnr. Mauritz van Straten (50), wat sy eie koerier-onderneming bedryf het, het omstreeks 15:30 sy stiefseun, Erik van Eeden (14), by The Spires-perdeskool in Glen Austin, Midrand, gaan oplaai toe agt rowers op hulle toegeslaan het net toe hulle uit die erf gery het.

Volgens Erik het die rowers vyf skote op hulle geskiet.

“Ek het onder die paneelbord weggekruip toe die eerste skote klap. Een van die koeëls het by my stiefpa se skouer ingegaan, deur sy long en hart gegaan en my in die elmboog getref. My stiefpa het weggejaag, maar later sy bewussyn verloor en die motor het van die pad af geloop,” het Erik gesê.

Hy het die stuurwiel probeer gryp om die motor op die pad te hou maar die motor het ’n muur getref en omgeslaan.

Volgens Erik het die polisie eerste op die toneel opgedaag, maar wou hulle eers na die motor kyk voordat hulle die ambulans gebel het. Hy moes op hulle skreeu om die ambulans te bel. Die ambulans het sowat 15 minute later opgedaag, maar Van Straten was toe al dood.

Erik is na die Sunninghill-hospitaal geneem en later ontslaan.

Erik het gesê hy wou self die nuus van sy stiefpa se dood aan sy ma, Sureta (35), oordra.

“ ’n Vreemde vrou het by ons gestop en ek het gesien hoe die Here deur haar werk. Sy het my getroos en heeltyd my ma gebel en haar op hoogte gehou van wat aangaan (maar nog nie meegedeel dat Van Straten dood is nie). Ek het haar en later die dokter net gevra dat ek self my ma moet vertel dat my stiefpa dood is want ek wou nie hê sy moet dit oor die foon hoor nie. Ek wou dáár wees vir haar.”

’n Dokter het egter later vir mev. Van Straten gesê haar man is dood. Erik het gesê hy gaan sy stiefpa se glimlag mis.

Mev. Van Straten het gesê sy voel nie enige haat teenoor haar man se moordenaars nie.

“Ek voel geskok en ontsteld en kan dit steeds nie glo nie. Dit kan nie waar wees nie. Ek voel nie haat nie, dit is een ding. Ek gaan net sy teenwoordigheid mis en mis om met hom te praat,” het sy gesê.

Insp. Mmakgomo Semono, polisiewoordvoerder, het gesê hulle is nie seker hoeveel aanvallers betrokke was nie en of Van Straten aan die skietwond dood is nie of weens die ongeluk.

Volgens hom ondersoek die polisie sake van moord en poging tot kaping.

Van Straten word Vrydag 12:00 vanuit die AGS kerk in Glen Marais, Kempton Park, begrawe.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2464333,00.html

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: