‘Hy het aanhou sê ons moet dood’

Mnr. Pieter Raaths en sy vrou, Corrie, voor die deur wat gewapende rowers afgebreek het.Foto: Daleen van Manen

Jan 27 2009 09:57:19:993PM – (SA)

Daleen van Manen

Hartbeespoort. – “Ek weet nie waar ek die krag gekry het nie. Ek het net gebid en gesmeek hy moet ons lewens spaar terwyl ek sy hande met die mes en hamer vasgehou het. Hy het aanhou sê ons moet dood.”

So het ’n getraumatiseerde mev. Corrie Raaths (36) van ’n hoewe by Rietfontein hier gister vertel enkele ure ná haar verbete worsteling met rowers wat haar en haar man, Pieter, in hul huis aangeval en met ’n mes gesteek het.

Die egpaar se een hond is geskiet en twee katte is later dood gevind.

Die Raathse het gisteroggend kort ná middernag wakker geword toe hul vyf honde begin blaf het.

“Ek het deur die kamervenster gesien hoe vier mans die hek oopbreek, ons wit Duitse herdershond, Terry, skiet en die buiteligte met klippe uitgooi,” het mnr. Raaths vertel.

Die mans het eers geprobeer om die veiligheidsglas van die deur met klippe stukkend te slaan en toe die deur afgebreek, waarna hulle hom met ’n vuurwapen aangehou en geslaan het.

“Hulle het die waaier se koord afgesny, my vasgebind en in die spaarkamer gegooi,” het hy vertel.

Sy vrou het agter ’n slaapkamerdeur met een van die honde in haar arms weggekruip, maar ’n rower het haar gevind. “Hy het my gegryp, my met die mes in die gesig gesny en toe aan my hare rondgesleep en geld, selfone, vuurwapens en ’n motor gevra.”

Die rowers het die huis geplunder, waarna mev. Raaths na haar man teruggeneem is. “Hy het gesê ons moet dood en het die mes gelig om my in die nek te steek. Ek het sy arm gegryp en gesmeek hy moet ons lewens spaar. Toe gryp hy ’n hamer met die ander hand om Pieter mee te slaan. Ek het sy ander arm ook gegryp en hom vasgehou. Al waaraan ek kon dink, is dat ons nie nou kan doodgaan nie.”

Die motorligte van ’n polisievoertuig het die rowers laat vlug. Bure wat skote gehoor het, het die polisie ontbied.

“Hulle was wreedaardig en dit was duidelik hulle wou moor. Ons het my twee babakatte ná die voorval dood gevind. Ons trek vandag nog. Ons kan nie meer hier bly nie.”

Een van die vermeende rowers is enkele ure ná die aanval by ’n nabygeleë plakkerskamp in hegtenis geneem, het insp. Moses Manaiwa, polisiewoordvoerder, gister gesê.

“Ons soek nog na die ander drie.”

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2459933,00.html

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: