Rowers volg man in huis in, vermoor hom

Werknemers van ‘n skoonmaakdiens gister doenig in die oprit van die Bezuidenhout-woning in Warrick-weg, West Beach in Kaapstad waar mnr. Alexander Bezuidenhout (52) doodgeskiet is deur rowers wat hom Vrydagmiddag in sy huis in agtervolg het na hy klaar sy voorste gras gesny het. (Foto: Lizane Louw)

17/01/2009 21:49 – (SA)

Anri Cronjé

Kaapstad

’n Inwoner van die spogbuurt West Beach naby Bloubergstrand in Kaapstad is Vrydagmiddag deur rowers van sy pas gesnyde grasperk tot in sy woonkamer agtervolg en daar ten aanskoue van sy vrou in die kop geskiet.

Mnr. Alexander Bezuidenhout (52) het vullissakke gaan haal om die gesnyde gras op sy sypaadjie in te gooi toe die twee gewapende mans agter hom deur ’n oop garagedeur die huis in is.

“Wat maak daardie twee mans hier?” is glo die laaste woorde wat sy vrou (49), wat anoniem wil bly, kon uiter voordat hy in ’n stoeiery met die een rower oorval is.

’n Enkele skoot het geklap en Bezuidenhout is onder die ken getref.

Sy vrou is lig beseer toe die ander rower ’n kettinkie van haar nek afgeruk het.

Die rowers het net met dié kettinkie en mnr. Bezuidenhout se selfoon gevlug.

’n Histeriese mev. Bezuidenhout het volgens ’n buurvrou herhaaldelik haar interkom-knoppie kom druk en iets geskree, maar weggehardloop voordat sy die deur kon oopmaak.

Volgens bure was die Bezuidenhouts “stil, vriendelike, eenkant mense”. Hulle het saam met hul twee seuns en ’n dogter in die huis gewoon.

Mnr. Bezuidenhout was ’n kranige tuinier wat sy gras “soos klokslag” elke Vrydag gesny het.

“Sy garagedeur was altyd oop as hy in die tuin gewerk het,” sê ’n buurman. “Ek is tot in my skoene toe geskok. Net Donderdagaand het ek nog kuiermense gehad wat gevra het hoe veilig West Beach is. Ek het vertel hoewel almal se voordeure omtrent aan die straat grens, hier nog nooit probleme was nie. Net 24 uur later is my buurman koelbloedig doodgeskiet.”

’n Geskokte buurvrou wat ’n klipgooi van die Bezuidenhouts af woon, sê sy is nou selfs te bang om haar tuin nat te lei.

Oorsprong:Rapport
http://www.news24.com/Rapport/Suid-Afrika/0,,752-2460_2454932,00.html

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: