Dominee in nek geskiet nadat hy aanvallers vriendelik groet

Ds. Philip Bergh vertel hoe hy Oujaarsoggend in die nek geskiet is. Foto: Leon Botha

Jan 02 2009 09:07:47:987PM – (SA)

Hilda Fourie

Kort voordat ’n Pretoriase dominee in die nek geskiet is, het hy twee van sy aanvallers vriendelik gegroet.

En hulle het vriendelik teruggegroet.

Ds. Philip Bergh (63) het gister by sy huis in Proklamasieheuwel in die weste van Pretoria vertel hoe hy twee dae vantevore in die oprit van sy erf geskiet is. Bergh is al amper 30 jaar lank leraar by die NG gemeente Quaggapoort.

Hy het Oujaarsoggend omstreeks 06:00 plante in sy tuin geplant toe die mans in die straat verbyloop.

Hy het hulle gegroet.

Toe hy klaar was met die plantery, het hy sy Volkswagen Mikrobus se water en olie nagegaan omdat hy dié dag Middelburg toe sou ry.

Die voertuig het in die motorhuis gestaan.

Daar is nie ’n heining tussen die motorhuis, wat op die straat uitkyk, en die straat nie.

“Ek was met my bolyf in die kombi om die sitplekke reg te stel,” het Bergh gesê.

“Ek weet nie of ek iemand gehoor praat het en of ek net ’n skuifgeluid gehoor het nie, maar toe ek uitklim en omdraai, staan die drie daar, een met ’n pistool.

“Ek het dadelik gesien die een met die pistool en nog een was die twee wat die oggend verby my geloop het. Hulle het lank na my huis gekyk.

“Daar het ’n hemelse vrede oor my gedaal. Ek het hulle gevra wat hulle soek, ’n paar lelike woorde gesê en die een gegryp wat die wapen op my gerig het.

“Dis toe dat ’n skoot afgaan. Ek het hom in my hande gehad toe hy geskiet het.

“Toe hulle die skoot hoor, het hulle weggehardloop.”

Volgens Bergh het hy net die hitte van die bloed gevoel en vreeslik geskreeu.

Sy buurman het hom gehoor en hospitaal toe geneem.

Bergh is in die nek onderkant sy linkeroor getref.

Die koeël is deur die boordjie van sy hemp en het nie ’n aar of ’n been getref nie.

Dié voorval was vir Bergh die afsluiting van ’n moeilike jaar. Hy is verlede jaar drie keer van ’n selfoon beroof en daar is by sy huis ingebreek.

Hy is ook al in die laaste paar jaar van twee mikrobusse beroof. Dié keer sou sy aanvallers nie weer met sy voertuig wegkom nie.

Die kombi word gebruik om mense kerk toe aan te ry.

“Ek kan net lof vir die Here bring dat ek nog leef,” het Bergh gesê.

“My dankbaarheid vir die feit dat ek leef, is groter as my wil om wraak te neem.”

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2448044,00.html

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: