Man vir pet en selfoon gedood

Mev. Hettie en mnr. Corrie Muller

Dec 05 2008 08:59:39:403PM – (SA)

Gloria Edwards

Sy het gesoebat dat haar man nie doodgemaak word nie.

Maar toe steek ’n huisrower nogtans mnr. Corrie Muller (81) se hoofslagaar af terwyl sy vrou, Hettie (78), toekyk. Hy het binne minute doodgebloei.

Mnr. Muller van Primrose, Germiston, is eergister omstreeks 08:30 op me. Charné Mills, een van sy kleindogters, se 24ste verjaardag vermoor.

“Ons sou almal by ons huis bymekaarkom vir ’n partytjie, maar toe gebeur dit,” het Mills gesê.

Mnr. Marius Mills, die egpaar se skoonseun, het gesê die rower het die diefwering van die kombuisdeur oopgebreek om in die huis in Vyfde Straat te kom.

“Hy’t my skoonma eers met die vuis in die gesig geslaan en met koppies gegooi. Hy’t vir haar gesê as sy nie haar trouring vir hom gee nie, gaan hy haar vinger afbyt.

“Toe gil sy vir my skoonpa, wat in die stort was, om te kom help. Die mans het toe gestoei en hy het my skoonpa met ’n fles oor die kop geslaan.”

Die aanvaller het ’n kombuismes in die hande gekry, het mnr. Mills gesê.

“Dis toe wat my skoonma pleit hy moet haar man nie doodmaak nie, maar hy het hom in die keel gesteek. Al wat hy gevat het, is sy keps en selfoon.”

Die nooddienste is ontbied, maar mnr. Muller is op die toneel dood verklaar.

Mev. Muller is gister na ’n dokter geneem vir behandeling.

Haar regteroog en arms is pimpel en pers geslaan.

Mev. Marlene Winde, die Mullers se dogter, het gesê haar ma is vreeslik verniel. “Hulle was albei weerloos, skadeloos teen die rower. My pa se dood was so onnodig. Hy was nie ’n bedreiging vir sy aanvaller nie.”

Insp. William Masondo, polisiewoordvoerder, het gesê ’n 17-jarige seun is gister in hegtenis geneem nadat mnr. Muller se selfoon by hom gevind is.

Twee makkers wat ook gister in hegtenis geneem is, het die 17-jarige se skuilplek aan die polisie uitgewys.

Hulle was glo deel van ’n bende van vyf wat uit Soweto na Primrose gekom het. Vier van die vyf is later gearresteer.

“Hulle het erken hulle was daar om huise te beroof.”

Volgens die polisie het twee rowers die Mullers geteiken. Dit is egter nog onseker watter een mnr. Muller doodgemaak het.

Hy laat nóg twee dogters, me. Esmé Alberts en Amanda Mills, twee broers, mnre. Flip en Tom Muller, en twee susters, me. San Dorrepaal en Ans van den Berg, agter.

Die begrafnis vind Dinsdag om 10:00 vanuit die NG kerk Witfield-Wes plaas.

Die verdagtes verskyn na verwagting oormôre in die Germiston-landdroshof.

Oorpsorng:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2438193,00.html

One Response

  1. Vir 81 jaar lewe jy…’n seun, ‘n man, ‘n pa, ‘n oupa,’n goot oupa!en op ‘n dag… uit die bloute, word jy net eenvoudig deur ‘n naamlose, adreslose, gesiglose ‘ONDING’ van jou lewe ontneem! ek sukkel soms, om my ‘naaste’ lief te hê soos myself! Here? vergewe my asseblief, maar ek sukkel!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: